Skouerkussings, haarsproei en sterrekrag: Agter elke man se rolverdeling bekend
Agter elke suksesvolle man staan ’n sterk vrou, lui die bekende gesegde, maar agter Bruce Beyers staan daar ’n hele rolverdeling van 20 talentvolle spelers. Met genoeg skouerkussings en haarsproei gaan dié indrukwekkende groep spelers die 80’s behoorlik herleef.
AfriForum Teater het vandag die volledige rolverdeling van Agter elke man – die musiekblyspel bekendgemaak. Met spelers soos Elandré, Amanda Strydom, Nadia Beukes en Zöricke Snyman beloof hierdie nuwe verhoogweergawe van ’n verhaal wat oor die jare heen ’n spesiale plek in Afrikaanse popkultuur gekry het, om die harte van duisende nuwe teatergangers te steel.
Saam met Elandré, wat reeds as Bruce Beyers aangekondig is, gaan die bekroonde sangeres en aktrise Amanda Strydom die rol van Antie Stienie vertolk; Zöricke Snyman die rol van Elna; Nadia Beukes as Sarie; Marcelle Peach as Leana; Danté Elliot as Joyboy; Carl Trautman as Reinders; en Lisa de Wet as Doreen.
Onder leiding van die regisseur en skrywer, Jannes Erasmus, word die bekende verhaal herverpak vir ’n nuwe generasie teatergangers, sonder om die nostalgie wat dit so geliefd gemaak het, prys te gee.
“Dit is vir my ’n ongelooflike voorreg om as regisseur deel te wees van Agter elke man. Dit is ’n produksie wat soveel nostalgie, ikoniese humor en herinneringe terugbring,” sê Erasmus.
“Een van die grootste vreugdes van hierdie projek is die geleentheid om saam met ervare, gevestigde akteurs te werk en terselfdertyd vir jong, opkomende talent ’n kans te gee om hul eie drome op die verhoog te verwesenlik.”
Die hoofkarakters word ondersteun deur ’n ensemble wat die rolle van Steve Anderson, William Beyers, Olckers en meer gaan vertolk. Dié ensemble bestaan uit Morné Vogel (Steve Anderson), Nicole Jean Brown (ook Danskaptein), Inge Lochner, Vivienne Dirkse van Schalkwyk, Anke Snyman, Fouché Wessels, Christopher Branders, Klaus-Louis Jansen van Vuuren, Alewyn Kritzinger, Dihan Keun, Jordan Human en Rico Immelman.
Volgens Erasmus beskik die spelers in Agter elke man – die musiekblyspel oor dit wat nodig is om hierdie produksie net so indrukwekkend te maak as die oorspronklike televisiereeks.
“Dit is besonders om hierdie geliefde storie terug te neem na die kleurvolle wêreld van die 1980’s. Ons blaas nuwe lewe in die styl, atmosfeer en unieke karakters van daardie era en bring só ’n stukkie nostalgie na ’n nuwe generasie gehore,” sê hy.
Die mense agter die rolverdeling
Elandré se lewensverhaal is soos dié uit ’n teaterproduksie – ’n jong seun uit Despatch in die Oos-Kaap plaas ’n Facebook-video waarin hy Bruce Springsteen se “Tougher Than the Rest” sing en word kort daarna in ’n Bok Radio-ontbytprogram deur Select Music ’n opnamekontrak aangebied. Sy debuutalbum, Kleindorpdromer, het in 2017 verskyn, gevolg deur Boomhuis in 2019. Nou verruil dié kleindorpdromer sy eie storie vir dié van Bruce Beyers, ’n karakter wat diep in die Afrikaanse kultuurgeheue leef.
En wie beter om die geliefde Antie Stienie nuwe lewe te gee as Amanda Strydom? Met ’n loopbaan wat oor byna vyf dekades strek, is Strydom een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde kunstenaars. Strydom het haar loopbaan in 1979 by KRUIK in Kaapstad begin en het intussen ook ’n geliefde kunstenaar in Nederland en België geword. Sy is onder meer met die Erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Universiteit van Pretoria se Laureata-toekenning, die ATKV Prestige-toekenning en ’n SAMA vereer. Haar spesialiteit is musiekteater en literêre kabaret, en dis presies waar Antie Stienie tuis hoort.
Saam met Elandré en Amanda neem Zöricke Snyman die rol van Elna in. Zöricke, wat in 2010 haar Drama-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het bekendheid verwerf uit produksies soos die Naledi-bekroonde AS, Die Gelofte, Die Kaplyn, Ons vir jou en Semi-Soet – die musiekblyspel. Op televisie het sy as Amelia in Die Fakulteit en as Hilda in Binnelanders verskyn. Sy is sedert 2016 besturende direkteur van The Playhouse Acting Studio SA en is passievol oor teater, onderwys en die ontwikkeling van jong talent.
Nadia Beukes, oftewel Sarie, is ’n aktrise, sangeres, aanbieder en stemkunstenaar met ’n loopbaan van meer as twee dekades in televisie, teater, film en regstreekse vermaak. Gehore ken haar uit Binnelanders, Getroud met Rugby, Diepe Waters en Hartland, asook as voormalige aanbieder van Boer Soek ’n Vrou. Op die verhoog het sy in produksies soos The Rocky Horror Show, Dirty Dancing, Ons vir jou, Die Gelofte en The Sound of Music opgetree, waarvoor sy vir ’n Fleur du Cap- en ’n Naledi-toekenning benoem is vir haar vertolking van The Baroness.
Danté Elliot kan nouliks wag om die rol van Joyboy in te neem. “Die feit dat ek deel is van Agter elke man is só ’n groot voorreg en bring my ’n tree nader aan my droom,” sê hy.
Die ensemble is boonop ’n bekende bende uit die AfriForum Teater-familie: Rico Immelman (Spooksoeker, 7de Laan, Die Gelofte en Ons vir jou), Inge Lochner en Anke Snyman (albei uit Semi-Soet – die musiekblyspel), Jordan Human (Die Gelofte en Binnelanders) en Fouché Wessels (Ons vir jou) asook ’n paar nuwe gesigte.
Met oorspronklike musiek van Johan Vorster en Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek en ’n verhooguitleg deur Wilhelm Disbergen, wat gehore terug na die 80’s neem, is hierdie span gereed om ’n verhaal te vertel wat gehore op die punt van hul sitplekke gaan hou.
“Vir diegene wat destyds saam met Bruce Beyers en die ander karakters grootgeword het, is hierdie produksie ’n kans om daardie herinneringe te herleef. Vir ’n nuwe generasie is dit ’n geleentheid om self te ontdek waarom Agter elke man soveel jare later steeds ’n spesiale plek in Afrikaanse gehore se harte het,” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.
Agter elke man staan daar ’n tou – maak seker jy staan nie heel agter nie. Kaartjies vir die produksie is reeds beskikbaar by www.musiekblyspel.co.za.

