Vlak 4-regulasies gaan AfriForum Teater nie stuit

Deur Carien Bloem

Slegs ’n paar weke nadat AfriForum Teater sy eerste 100 dae as teater gevier het, is verskerpte vlak 4-inperkingsregulasies weer ingestel om ’n derde vlaag COVID-19-infeksies teen te werk.

Die feit dat die teater alle vertonings wat vir die volgende twee weke geskeduleer was moet uitstel en sy deure tydelik moet sluit, gaan ons beslis nie stuit nie. Die volgende twee weke is ’n geleentheid vir die teater om al die reëlings vir vertonings vir die tweede helfte van die jaar in orde te kry, aangesien ’n tjok-en-blok-program vir teatergangers voorlê.

Die teater – wat hom grotendeels op gemeenskapsgeoriënteerde geleenthede toespits – huisves later vanjaar talle dans- en ander skoolproduksies, vermaak deur kunstenaars soos Franja du Plessis, Juan Boucher, Amanda Strydom, Germandt Geldenhuys en Helena Hettema, asook opwindende klassieke uitvoerings as deel van ons Sondagklassiek-program.

Teatergangers kan ook gerus wees dat wanneer die teater weer sy deure oopmaak, daar veral moeite gedoen sal word met al die nodige COVID-19-veiligheidsmaatreëls om te verseker dat jou besoek aan die teater so veilig moontlik sal wees. Kunstenaars sal ook gerus gestel word dat hulle steeds die kunste in ’n veilige omgewing na hul aanhangers kan bring.

Die program vir vertonings later dié jaar kan op die teater se webtuiste besigtig word by www.afriforumteater.co.za. Die jongste nuus en inligting oor AfriForum Teater is ook op die teater se Facebook-blad beskikbaar.

AfriForum Teater is steeds dié tuiskomplek vir Afrikaanse kunste en sien daarna uit om teaterliefhebbers weer binnekort in al hul glorie te ontvang en te vermaak.