|

Steeds Donkie – Snaaks, melancholies en soms hartverskeurend hartseer

Met Frank Opperman

Teks deur Dana Snyman

Regie deur Gerrit Schoonhoven

Deur Leon van Nierop

O, droewigheid op skoolklaviernote! Hoe gemaak as jy meneer Barry Swart is (Frank Opperman) wat sy geloof in feitlik alles verloor het, veral sy amp as skoolhoof? En daar sit die spulletjie voor hom. (Ja, jy in die gehoor ook!) ’n Hele skool wat papiervliegtuigies gooi wanneer hy geradbraakte Engels praat. Maar hy foeter voort al grinnik jy! Meneer Swart se kort lont het uitgebrand en die bom is naby ontplof! In hierdie komedie spat die verwyte oor leerders wat gaan dop soos vreesklonte in jou maag in ’n inentingry!

In Dana Snyman se sielsopenbarende soepel teks (is daar nog iemand wat so vindingryk met ons pragtige, ryk en plooibare taal kan omgaan as hy?) sê meneer Swart sy sê in tipiese afgemete Frank Opperman-taal sodat elke woord so swaar soos ’n boerbeskuit weeg. En hy kla oor die take wat hy moet verrig waarvoor weinig mense simpatie het. Gewildheid is nie deel van sy besnorde amp nie. (Nou weet hy hoe Meghan Markle voel!)

In hierdie pragstuk maak meneer Swart sy hart so wyd oop soos ’n skaapkraal, maar so lomp dat hy oor sy eie besware struikel. Hy loop deur die mynveld wat die moderne onderwysstelsel verteenwoordig. Van politiek korrekte woorde en suf, vals uitdrukkings tot die feit dat die roede deesdae gespaar word, seuns wat buite skelm rook en onderwysers wat verveeld op hul horlosies kyk.

Snyman omarm hierdie deerniswekkende karakter met soveel empatie, maar ook humor en ’n klein bietjie speelse kritiek dat meneer Swart snoesig en diep in jou hart sy lê kry. Jy giggel vir sy pogings tot spitsvondigheid, sy verwytende vinger in die krokodillug, sy snorre wat bewe van verontwaardiging, maar ook vir sy bomenslike dilemma. Om vandag ’n onderwyser te wees – laat staan nog skoolhoof! – sit nie in elke skoolhoof se broek (of rok!) nie, want jy het soveel departemente en hoofde om tevrede te stel dat jy iewers op iemand se tone gaan trap. En as daardie tone liddorings het, kry jy sommer ’n gedugte skop op jou hinterland op die koop toe.

Jy sal lag dat die trane loop, jy sal stil word van ootmoed vir hierdie verskeurde siel se dilemma, jy sal jou breek vir die bedrewe Frank Opperman se talent om gewig aan ’n doodgewone, beswaarde man te gee. Maar jy sal ook respek vir hom kry en dalk ’n klein bietjie met hom kan identifiseer. Binne ’n uur vat die wonderlike Snyman die dilemma van ’n skoolhoof saam dat die kluite op die kis klap. Want ’n mens kry die indruk dat die onderwysstelsel stadig maar seker die deksel laat toegaan, maar mnr. Swart ruk dit oop en werp die kluite terug na die skuldenaars!

Wees net versigtig waar jy sit, want indien Opperman té lank na jou kyk, kan jy dalk stewig onder sy tong deurloop dat die speeksel spat. En al wat jy sal kan sê is: “Ja, meneer!” soos toe die uwe destyds stewig deurgeloop het.

Snaaks, melancholies, soms hartverskeurend hartseer – só snaaks jy sal De Witt-teensuurpoeier nodig hê teen die lagbuie, maar uiteindelik skokkend waar. Snyman en Opperman skep orde uit die chaos wat Suid-Afrika en sy onderwysstelsel vandag verteenwoordig. ’n Guitige breinopskop!