Oorweldig? Laat AfriForum Teater vir jou afleiding bied

Deur Carien Bloem

Die afgelope drie weke kon die AfriForum Teater weer sy deure oopmaak. Ons is bly, want ná ’n maand van geen voete en geen vertonings kan ’n teater maar ’n eensame plek word.

Met slegs 50 persone wat per vertoning toegelaat word, is ons tog bly, want daar is weer geleenthede wat plaasvind. Beweging. Die verhoog word weer gebruik en al moet ons planne maak om meer as een vertoning op ’n dag te hou om dit vir die kunstenaar en die gehoor die moeite werd te maak, doen ons dit. Terwyl ons steeds planne kan maak, is dit goed.

Dit het my ook die laaste tyd laat besef hoe belangrik dit is om ’n gesonde afleiding te hê en hoe nodig ons as mense dit het om daagliks te ontlaai. Ons leef in ’n tyd wat oorweldigend is, hetsy dit werk, verlies of siekte is en iewers moet jy vir jouself tyd maak om te ontlaai, te ontspan of te ontvlug.

Groot was my blydskap toe ek onlangs na ’n verskeidenheid stokperdjies op die internet gaan soek en agterkom dat “teater” een van die mees gekose stokperdjies is.

Dit het my net weer laat besef dat die AfriForum Teater nie net ’n werkplek, gemeenskapbymekaarkomplek, of nuwe kunsteplatform is nie, maar ook ’n plek wat afleiding bied in ’n tyd waarin baie mense oorweldig voel.

AfriForum Teater bied die geleentheid vir gesinne om saam tyd te deur te bring. Daar is iets vir die kleinspan op die program, maar ook vir die volwassenes wat ’n wegbreekkans nodig het.

Ek dink die laaste jaar en vyf maande was vir baie mense baie swaar. Aanpassings moes gemaak word, nuwe uitdagings moes aangepak word en veranderinge moes aanvaar word. Mense, en ek sien dit daagliks om my heen, is net besig om uit te hou en aan te hou en net te oorleef.

Ek wil die lesers tog aanmoedig om vir jou ’n uitlaatklep te kry, iets wat jou kan herlaai, al is dit om op ’n Sondagmiddag na ’n klassieke vertoning by die teater te kom luister of jou kleinkind na ’n kindervertoning te bring of net ’n glas wyn saam met jou vriendin te kom drink by ons teaterrestaurant, Pronk.

Ons moet onsself oppas en vertroos. Laat AfriForum Teater vir jou hierdie bevryding en vertroosting gee in dié tyd wat vir baie van ons so oorweldigend is.