Die verlore seun word soldaat vir Christus

Deur Chanté Kelder

Reynardt Hugo is nie ’n onbekende naam in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nie. Reynardt is akteur, sanger en deesdae ook skrywer en motiveringspreker. Sy boek Soldaat het in Februarie vanjaar die lig gesien en sedertdien gryp sy verhaal harte reg oor die land aan.

In Soldaat vertel Reynardt oop en eerlik sy storie van gebrokenheid tot waar hy homself uiteindelik by God se voete moes gaan neerlê het en belangrike besluite moes neem. Van begin tot einde kan die leser agterkom dat Reynardt sy storie met baie moeite moes herroep om ’n spesifieke boodskap oor te dra: As God jou roep sê jy nie nee nie, al beteken dit dat jy jouself van jou ego moet stroop om vir vreemdelinge te wys dat God se genade groter is as wat ons ooit sal besef.

Hy vertel van sy grootwordjare in ’n gesin waar albei sy ouers in die weermag was en sy pa homself gereeld aan drank oorgegee het. Sy skooljare, universiteitsjare en vroeë loopbaan tot nou. Reynardt deel van sy seerste herinneringe en ook van sy mooiste herinneringe – soos die spesiale band wat hy en sy ma met jasmyn het – niks is ooit nét sleg nie.

Die trant van die boek is gesellig; van die eerste hoofstuk af voel dit asof jy as leser saam met ’n vriend koffie drink en hy praat sy hart uit. Soms kan jy dalk jouself betrap waar jy vir jong Reynardt ’n bemoedigende woord wil gee of selfs wil sê dat jy ook al so gevoel het, dat hy nie alleen is nie. Dit is wat hierdie boek veral so aangrypend maak; daar is nie voorgee nie en hoewel hy openhartig praat oor sy verlede is daar dinge wat steeds te seer is om oor te praat en as leser het jy begrip daarvoor want almal hoef nie altyd alles te weet nie. Soms is dit beter as sekere dinge maar tussen jou en God bly.

Soldaat verbreek ook stigmas rondom die idees van manlikheid en wat dit werklik beteken om ’n man te wees. Hy praat oor sy stryd met drank, dagga en pornografie – hy vertel ook hoe hy gereeld vir Anna, die liefde van sy lewe, verneuk het met ander vroue. In plaas daarvan om weg te deins van sy verlede kyk hy dit vol in die oë, erken hy het foute gemaak en vertel ook van die stryd wat daarmee saamgaan om jouself te vergewe.

Wat veral uitstaan is dat Reynardt nie een keer sonder deernis van sy ouers in die boek skryf nie, al was alles nie altyd maanskyn en rose nie. Daar is min dinge so kompleks soos familieverhoudings en die liefde wat daarmee saamkom; dit is die mense met wie jy jou direkte ruimte deel en ongelukkig is dit ook die mense op wie jy eerste jou frustrasies uithaal. Reynardt beklemtoon dat hulle almal ’n manier moes vind om met die chaos in hulle lewe vrede te maak en dit was nie altyd maklik of ideaal nie, maar hulle het so te sê heel aan die ander kant uitgekom.

Soldaat is nie net ’n storie van ’n verlore, gebroke seun wat sy weg stadig teruggevind het huis toe nie. Dit gaan ook oor hoe ’n mens opstaan nadat jy keer op keer geval het en om jouself te vergewe vir die foute wat jy gemaak het. Dit is ’n storie oor versoening, ware liefde en genade wat werklik onbeskryflik groot is.

* Reynardt kuier op 21 Augustus 2021 om 15:00 by AfriForum Teater. Kom luister na sy boeiende verhaal en ’n paar liedjies terwyl hy jou motiveer en inspireer. Kaartjies kos R150 en is by www.afriforumteater.co.za beskikbaar.