AfriForum Teater koop “teater” by WAT

AfriForum Teater beskou die woord ‘teater’ nie net as ’n nuwe platform vir die kunste nie, maar dit is ook vir die organisasie ’n plek waar gemeenskappe bymekaar kan kom. Daarom het AfriForum Teater besluit om dié woord by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te koop.

Volgens Carien Bloem, bestuurder van AfriForum Teater, is die kunste ’n wonderlike manier vir mense om hulself, hul lewensomstandighede en die kwessies waaraan ons blootgestel word, uit te beeld. “Dit is belangrik om uiting te gee deur middel van die kunste, maar ook deur ons moedertaal. So groei die uitlewing van die kunste nie net nie, maar word die geleentheid ook geskep dat Afrikaans as taal kan groei en bevorder word.”

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sê dit is belangrik dat Afrikaans op hierdie manier ondersteun word, want die WAT-projek is een van die belangrikste projekte in Afrikaans. “Dit is ’n tydlose aantekening van Afrikaanse woorde en die woorde waaruit dit saamgestel is, asook die hele literatuurgeskiedenis daaragter. Ek is baie dankbaar dat ons die projek op hierdie manier kan ondersteun.”

Volgens Bailey is dié inisiatief om woorde te verkoop een van die kreatiefste maniere waarop Afrikaanse organisasies oorleef ondanks al die druk en swak ekonomiese omstandighede. “Wanneer mense so vernuwend dink en op hierdie manier fondse insamel, skep dit ’n lekker geleentheid om saam met ander individue en organisasies te werk. Dit is ’n voorreg om die hand wat uitgereik word te neem en so ondersteuning te bied om Afrikaans lewendig te hou,” sê Bailey.

Die WAT is ’n wonderlike inisiatief wat beslis ondersteun moet word. Deur die WAT te ondersteun word wonderlike uitbouingswerk aan Afrikaans gedoen en dit is ’n mooi gebaar om te wys hoe belangrik sekere Afrikaanse woorde vir jou is, sê Bloem. AfriForum Teater wil instansies en mense aanmoedig om hierdie inisiatief te ondersteun deur ’n woord te borg of te koop. Besoek die WAT se webwerf vir meer inligting oor dié projek.